Die vae dowwe lig van die vroë-oggendson
sif sagweg deur die gordyn voor jou deur,
wyl jou asem stewig-stadig
sagkens deur jou lippe skeur.
Die horlosie klik, klik teen jou kombuismuur
soos die sekondes te vinnig marseer
en my hart stukkies-breek
in die oomblik wat ek dit alles wil keer.
Jou lyfie lê styf in my arms
met laasnag se gebeure in my kop te lees
en ek weet in die diepste dele van my
dat ek presies gemaak is om hier te wees.
Die hartskeurende verhaal van my lewe
wat nog altyd swaar op my skouers rus,
my daagliks laat voel soos ou Atlas
is vir die oomblik, heeltotaal verlig.
Ek vryf met my vingers die patrone
oor die sagte rondings van jou vel,
en laat my toe vir die oomblik wat heers
dat ek kan glo jy kan my verlos van my hel.
In daardie vroeg-oggend oomblik
wyl jou lyf diepwarm vleg teenaan my
besef ek dat as ek net een ding kon vra,
dit sou wees dat dit net so kon bly.
Vir ‘n oomblik in daardie gewaand,
met ons klere oral om ons gestrooi
met my hart en my siel so gelukkig
met jou in my arms, so mooi,
vra ek saggies die heelal hier om my
vir net een klein ding hierdie dag
vir my eie wys-godin Athena
om myne te wees, van nou af.
Leave a Reply