Onverwags, Onbepland en Onbeskryflik

Soms is die lewe ‘n vervelige, eentonige herhaling van homself vir so lank dat dit noodsaaklik voorspelbaar raak. ‘n Mens raak so vasgevang in die grys van die ordinêre dat dit onmoontlik raak om te konsidireer dat daar ‘n alternatief is. Werk, slaap, nodige sosiale interaksies, televisie, boeke, blogs, webcomics en eet…

Niks verras meer nie, niks lok die ywer en genot meer uit nie en dan, net wanneer jy jouself oortuig het dat dit al is wat oor is, wanneer jy jou toelaat om die medikasie as ‘n antwoord en nie net ‘n kruk te aanvaar nie, dan gebeur dit; nie ‘n brandende, alomvattende verandering nie maar stadiger, soos wat die fondasies van jou lewe eers skud en dan herranskik. Stadig eers, soveel so dat jy nie die verskil kan sien nie maar eendag word jy wakker en alles is anders, beter.

Onlangs het hierdie klein, konstante veranderinge vorm geneem in die gewaad van ‘n heeltotale metamorfose. Ek het voorheen al baie male voorspel dat ‘n seun eers ‘n man word wanneer hy die regte vrou ontmoet, die vrou wat hom noodsaaklik in ‘n man maak en alhoewel dit ‘n pragtige filisofiese woordrangskikking was het ek dit nie in my eie lewe as nodig beskou nie, nie totdat dit gebeur het nie. Uit niks uit nie, skielik en sonder beplanning het die besluite wat ek neem verander, nie meer selfdienend nie maar eerder, organies met langtermyn konsiderasie.

Skielik is dit nie meer wat ek wil doen nie, maar watter invloed dit op haar gaan he, watter invloed dit op die seuns gaan he, hoekom ek dit wil doen, my vroeëre hedonisme het gelei tot ‘n vorm van selfloosheid wat nie net bevrydend in dit self was nie, maar natuurlik en maklik en meer belonend was. Skielik was dit nie meer wat ek wil hê nie maar wat ons wil hê… Nie wat ek nou soek nie maar wat ek oor ‘n maand, ‘n jaar en ‘n dekade wil hê. Sy het in my lewe ingekom, nie soos ‘n storm wat alles omvergooi nie maar soos ‘n sagte lentebriesie wat die begin van die somer oor my lewe gespoel het, die einde van die winter aangekondig het sonder ‘n reuse, verswoestende storm maar met prag en wonder, subtiel en magies en perfek…
 


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *