Soos elke aand oor die afgelope weke lê ek alleen in my bed, in die ure tussen twaalf en twee, waar ek wakker geword het, ‘n paar keer eintlik “wakker” geword het want die nag terreure is terug. Hulle was vir lank redelik stil gewees maar die ontsuimighede binne my oor die laaste paar weke het hulle weer na vore gebring.
Wanneer jy “wakker” word en nie wakker word nie want dit is ‘n droom binne in ‘n droom binne in ‘n droom… Die lae wat wegpeul soos ‘n ui totdat jy seker is jy is wakker, en jy is in jou bed, en daar hang ‘n lang swart gedaante oor jou gebuk. Jy probeer beweeg om die lig aan te sit maar jy is vasgevang in jou eie liggaam sonder beheer, jy kan nie eers ‘n klank maak nie maar jy probeer desperaat spartel terwyl jou arms en bene nie wil saamwerk nie, ‘n oer-gil wil begin in jou keel maar geen klank kom uit nie en tussendeur kom die swart boosgees nader en jy sien die vleim-skerp tande soos sy mond groter word, groter as sy gesig met tande wat wreed en woedend al hoe wyer en wyer raak totdat dit die heeltotaal van jou realiteit is en dan… skielik… kan jy gil, en jy gil en sit regop in jou bed, deurweek met jou eie sweet, jou hart wat so vinnig klop dat jou bors seer is… Maar die monster is weg, net nog ‘n letsel van jou eie beskadigde psige…
Soos ek dan nou in die swart-donker van die nag op my bed sit met die stiltde van die leë aand as my enigste geselskap hoor ek die geroep van ‘n uil buite my kantoor-venster, hartseer en alleen en so vol smart en rou… Die rustigheid en die vrede van die aand keer terug en al hou jy jouself vas en trek die kombers styf om jou liggaam kan jy begin troos vind in die pragtige donker van die middernagtelike ure.
Ek sak dan stadig terug tot op my rug, terwyl ek droewig lê en by die oop kantoor-venster uitstaar na die skoon, buitelug, daardie pragtige wintersnag-sterrehemel wat van Gogh geskilder het in die Saint-Paul gestig in Saint-Rémy en dan, asof my oë skielik oopgaan en kan sien, net soos hy gedoen het terwyl hy besig was om te stoei met sy eie innerlike self, dat dit nie ‘n karakterlose, donker en swart hemel is nie want die swart is eintlik diep blou op plekke, elders is dit ‘n ligter blou en ek kan in die speling van die honderde verskillende skakerings van die blou hemele sien hoe die wind daardeur speel en dan, dan sien ek hoe die helder brandende lig van ‘n miljoen sterre deur die nag skeur en woed van die mag wat die helder, vonkellende lig deur die wye ruimte dryf…
Oral waar ons kyk brand die komplekse magie van die natuur hier reg voor ons oë en as ‘n mens hard genoeg kyk is daar meer wonderwerke in hierdie heelal as wat jy jou in jou wildste drome kon verbeel en dit is die voorreg van ons, die vervloekde enkelinge wat noodgedwonge ons bestaan vind in die middel van die nag om dit te kan beleef in ‘n oomblik van gesteelde geluk, in die ure tussen twaalf en twee.
Leave a Reply