Vir soveel jare al was ek besig om te verdrink, die vrot, slyk-gevulde modder wat soos sement aangepak bind binne in my longe en ek, ek het dit nie eers besef nie. ‘n Lyk voel niks…
Maar laat daardie Dinsdag-aand, in die gesteelde ure tussen alles en niks, het ek die soet lug geproe soos dit sagkens oor my keel gekibbel het en my longe, sproes gesluk het aan die suurstof en sagkens stadig weer begin het om te werk.
Ongelukkig was die slyk en modder en water wat my longe al vir jare vul net te veel, net te kliphard aangekpak en was daardie een teug soete asem nie genoeg om onmiddelik my hart weer te laat klop nie, was die vrees groter as die behoefte in my hart om jou te vertel…
Soos die lewe stadig teruggekeer het en my lyk gevul het, bloed polsend, hartklop ritmies, het ek besef dat jy my gered het maar meer as dit, belangriker as my eie terugkeer, dat jy self dit nodig gehad het en toe, toe jy dit voel, hoe die lewe stilweg steel in jou in en jou siel sy spieelbeeld sien in my, het jy gedink ek was nie ook daar nie, dat ek terug sou keer, weer sou sterf en ek, ek het dit toegelaat want ek was nog besig om te hoes en wurg en braak soos wat die water en die modder en die gif uit my longe stort, die slyk en aanpaksel van jare se verdrink.
Maar wat jy nie geweet het nie, die deel wat ek vir jou wegsteek, al vir sewe jaar lank… Van daardie eerste dag in daardie raadsaal was dit jy, dit was nog altyd jy… Onbekombaar, onbereikbaar, altyd net buite my uitgestrekte vingers omdat ons nooit ons timing kon regkry nie en nou, hierdie keer, was dit weer my beurt om jou aan te gryp en ek het jou in die steek gelaat…
Ek lê verbitterd in my bed, alleen en koud, die dorre woestyn in my hart en siel want jy, jy het die verdrinkende waters verdryf en toe, toe ek my maskers laat val het jy gehardloop en ek, ek het jou nie rede gegee om te bly nie. Laat daardie Dinsdag-aand het alles verander en het ek alles verloor en nou wens ek, ek kon weer verdrink maar in die woestyn is daar nie water nie.
Leave a Reply