Ekstrak uit "Eergister"

Eergister

Eergister was ‘n goeie dag, ‘n pragtige dag, ‘n dag waarin jy was en ons net onsself kon wees en by verre die tweede beste dag wat ek hierdie jaar gehad het…

Vrydag-middag kon ek voel hoe die wêreld op jou druk, jou in die grond in probeer trap en ek kon die seer in jou stem hoor, die moeg en stukkend, so toe doen ek dit wat ek kon doen om jou dag beter te maak, toe gaan ry ek om die dorp en soek vir jou ‘n Kosmos-plant, want dit is jou gunstelling. Jy sal dit nie glo nie, maar hulle is skaars hierdie tyd van die jaar hier by ons, almal te klyn, vervaal of nog nie in bloem nie. Die een of twee wat ek kon kry was net nie op geleë plekke nie maar soos die toeval dit nou al keer op keer bewys het, net nadat ek besef het ek gaan uit tyd uit hardloop en eerder moet opgee, toe kry ek hom, die pers-blommetjies wat by die grasse uitsteek in ‘n moeras.

Ek het hom sorgvuldig uit die grond gehaal, versigtig om nie sy blomme te beskadig nie, en ek het hom in die kar gelaai en deurgejaag na jou huis toe, om daar te kom voor jy daar kom. Ek het uit die kar uitgespring en besef jy het nie meer ‘n tuin in jou agtererf nie, snaaks hoe min ek oplet wanneer ek by jou huis kom, asof iets my aandag heeltotaal behou…

Dit was reeds na vyf en jy was al oppad huistoe so toe los ek hom op jou voorstoep, wetende dat jy hom nie sal mis nie, dat hy die eerste ding sal wees wat jy sien as jy by die huis kom, en toe jy by die huis aankom… “Harde musiek en kosmosse, né? Dit was die nou die toppunt van my dag.” Die glimlag skielik terug in jou stem en dit is hoe dit alles die moeite werd was, die rondjaag en rondhardloop, die besering aan my hand, alles die moetie werd want daardie glimlag, my geliefste, dit is die soort ding waaroor oorloë geveg word.

Saterdag het ek weer verlang, soos elke dag, na jou, die heeltotaal van wie jy is. Die Franse sê dit die beste, “Tu me manques”, jy word vermis by my, en dit is hoe ek voel oor jou wanneer ek nie by jou of om jou is nie.

Maar Saterdag-middag, net so na 17h00 kry ek mos ‘n oproep om die hek oop te maak en toe kom jy, julle, my twee “verloofdes” by my huis aan met roomys en glimlag en geluk, want orals waar ek jou kry bring jy vir my geluk saam.

Die onverwagte verrassing het soveel meer beteken vir my as wat jy ooit sal besef, ooit sal verstaan. Ek wens dat ek beskik het oor die woorde om aan jou te beskryf hoe bitterlik baie dit vir my beteken het, ek wens jy kon verstaan hoe baie jy vir my beteken, nou al agt-jaar lank.

Eergister was Sondag en dit was vir my ‘n wonderlike dag. Jy het by my huis opgedaag in daardie swart rokkie wat jy so van hou, my derde-gunstelling uitrusting wat jy besit, en jy was pragtig. Ons het skietbaan toe gegaan, ons was net ons eerlike selwe en ons het mense laat dink dat ons nog altyd saam is, “…soos ‘n ou getroude paartjie wat elke dag meer lief is vir mekaar…” was een van die beskrywings.

Daar is so baie wat ek kan vertel van Eergister maar die een ding wat by my vassit is jy, die heeltotaal van jou, die manier wat jou glimlag die hele wêreld ophelder, die manier wat die son val deur jou hare, die manier wat jy net jouself is, met niks om te bewys nie net so, moeiteloos indrukwekkend is.

Ek wil die res van my lewe spandeer met jou daarin, langs jou wakker word in die oggende met jou musiek wat speel, jou vashou in die aande wanneer die monsters in jou kop oorlog-voer met jou hart en jou koffie bring in die oggende wanneer die son weer skyn en alles beter is.

Wanneer al jou drome waarword wil ek die een wat langs jou staan, en wanneer al myne doen, is dit jy wat ek langs my soek. Dit was nog altyd jy.

Ekstrak uit "Eergister"


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *