maar jy het my nie gebel nie…

Op oukersmiddag het ek die nuus gehoor, het ek uitgevind, terwyl ek op die vloer in my sitkamer gelê het, dat jy nie meer kon aanhou nie en die eerste ding waaraan ek gedink is “…maar jy het my nie gebel nie…”

Vir hoeveel maande het ek uitgereik na jou toe, vir jou gevra om net te gaan koffie drink en net te gesels maar jy wou nie, kon nie, het nie, en ek, ek het dit net gelos want al daardie jare terug het jy my belowe dat wanneer dinge donker raak en wanneer jy bang is vir jouself en wanneer dit net voel of jy nie meer kan nie, dat jy my sal bel en ek het jou belowe dat ek altyd sal antwoord, maar jy het nie gebel nie…

Ek weet nie presies wat gebeur het nie, ek weet nie wat gelei het daartoe nie maar ek weet jy kon my vertel het. Ek weet ons kon dit regmaak en alles beter maak as jy net vir my die kans gegee het, maar jy het nie gebel nie…

Elke keer wat ek ‘n sonneblom sien, wil ek dit vir jou wys, en elke keer wat ek Roosmaryn pluk wil ek vir jou ook gee en elke keer wat dinge vir ‘n oomblik stil raak wil ek jou laat weet dat ek nogsteeds hier is as jy wil praat, maar jy het nie gebel nie…

Elke dag van daardie dag af dink ek aan jou en voel ek asof ek jou in die steek gelaat het, asof ek nie my belofte nagekom het nie, asof dit my skuld is, want dit is, ek kon meer doen, ek kon harder probeer, ek kon daar gewees het, maar jy het nie gebel nie…


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *