Vanaand skryf ek in Afrikaans… Ek skryf in Afrikaans, gedeeltelik omdat ek wil sien of ek nog kan, gedeeltelik omdat ek gese het ek gaan, en meestal omdat ek voel in Afrikaans…
Ek is vervul met verlange, met ‘n baie spesifieke leemte in my lewe, ‘n leemte in ‘n vorm wat ek goed ken. Ek het ‘n belofte gemaak en ek is van plan om daarby te hou, maar ek vind dat dit moeiliker is as wat ek ooit sou kon raai om nie te doen wat ek gese het ek nie sal doen nie. Ek het genoeg dinge om te finaliseer en af te handel voordat ek hierdie komende naweek trek, maar nie eers die intensiteit en hoeveelheid werk wat ek my mee besig hou is genoeg om my gedagtes af te lei nie…
Ek begin volgende maand in ‘n ander afdeling van die maatskappy waar ek reeds drie jaar werksaam is. Ek skuif heeltemal van beroep, en in die proses, van stede. Ek trek na Middelburg toe en begin as ‘n IR Konsultant. Ek maak ‘n nuwe begin vir die nuwe ek. Die ek wat nie meer in die stad kon bly nie; die ek wat vergeet het wat dit was om te voel het daar gebly. Die ek wat nie geweet het wie hy is en wat hy wil doen nie, het daar gebly. Die nuwe ek, die ek wat weet presies wat ek wil he uit die lewe uit, wat presies weet waarheen ek wil oppad wees, is die ek wat van volgende week af in Middelburg bly en werk. Die ek wat weer weet hoe dit voel om emosies te ervaar en hoe om te lewe in plaas daarvan om net as buitestander waar te neem hoe ander lewe is die ek wat nou besig is om alles in Johannesburg op te pak, weg te gooi dit waarvoor daar nie plek is nie, en in te pak dit wat ek nodig gaan he om te wees wie ek word.
In ‘n mate is dit wat ek doen nodig, om uit die kokon van beskerming waarin ek myself vir 4 jaar teogedraai gehou het uit te klim. Die eerste tentatiewe klap van my nuutgevonne vlerke voordat ek begin om te lewe… Werklik te lewe, sonder vrees, sonder afhanklikheid.
So wag maar op die volgende uitgawe van die blog, hetsy Engels of Afrikaans, om meer te hoor oor hoe dinge gaan in my lewe…
Leave a Reply