Dit is maar moeilik om te erken wanneer ‘n mens verkeerd was, foute gemaak het, maar dit is nodig. Jy kan nie leer uit jou foute as jy nie kan erken dat jy foute gemaak het nie en ek, ek het al groot foute gemaak. Jy sou dit nie sommer sê as jy my nie ken nie want een van die maskers wat ek dra, op sosiale media en voor die “publiek” is mos juis die suksesvolle, selfversekerde en sjarmante besigheidsman, en dan die ander, die monster-masker, die gevoellose, hartelose draak wat die moeilike besluite laat maklik lyk, maar…
Maar agter die maskers, daar lê die die probleem, die “imposter”, die een wat nie goed genoeg was nie. Dit is die deel wat ek nie vir enige iemand wys nie want dit is die eerlike ek, die ek wat wegkruip agter die verkeie maskers wat ek noodlottig dra omdat ek weet, in my hart, dat ek nie goed genoeg is nie en hoe dan anders? Die bewyse is daar vir enige iemand om te sien as hulle regtig wil kyk, verby die spieëls en die rook en al die ander versieringe van die verhoog waar ek maar die ring-meester speel, alles in my mag doen om dit weg te steek want as enige iemand my sien, die regte ek, sal hulle mos die afskuwelike waarheid sien.
Ek het probeer, regtig ek het, ek wou soveel beter wees, ek wou heel wees, ek wou ophou om myself te haat en so, so toe word die maskers my gesig en ek, ek oortuig myself toe dat ek oukei is, dat die valse beeld daarvan my realiteit is en dit geglo. Geglo tot daardie aand, die aand wat jy my maskers net so weggeruk het en gekyk het na die onsekere, deurmekaar gemors wat onder dit steek en ten spyte daarvan, ten spyte daarvan dat jy die donker waarheid geglimps het, het jy nie weggehardloop nie en in daardie magiese moment het jy my laat voel, vir die eerste keer in baie langer as wat ek kan onthou, asof ek wel goed genoeg is, die regte ek, nie die vals-gesigte wat ek dra nie.
In daardie oomblik het ek geweet, geweet en nie opgetree nie, moes ek eers die atrofie afskud van my siel af en besef dat ek weer kan lewe en in daardie gemorsde dae het ek my kanse verspeel want ek het nie, kon nie verby die maskers en die versieringe sien nie en nou, nou het ek nog ‘n rede om myself te haat want hoe kan ek nie, hoe kan ek myself nie haat nie want amper het ek alles gehad wat ek begeer het, amper kon ek eerlik wees met iemand wat nie onmiddelik weghardloop nie, amper kon ek begin om myself te vergewe vir alles wat ek al gedoen het want daar was amper iemand wat my sou aanvaar ten spyte daarvan… Maar soos die ou gesegde maar gaan, amper is nie stamper nie en ek, ek het maar weer gedoen wat ek altyd doen, net weer alles opgefok.
Leave a Reply