Derde Trap van Bo

Soms, op aande soos vanaand, lê ek in my bed en reflekteer op my lewe en, tot my spyt, hoe lank dit al is, hoe baie ek al gesien en ervaar en gedoen het…

Ek het valse-gode en slegte gode en halfgode en amper-gode gesien, die hele fokken panteon, maar as ek in een ding glo, net een ding, glo ek in jou, wat nou lê en slaap in die die bed oorkant die gang van my. Jy beindruk my so baie en ek wil hê jy moet weet hoe vreeslik trots ek op jou is, nog altyd was, hoe gereeld ek net wil sê; “Kyk net na my girl, kyk hoe gaan sy aan” want my fok, jy doen, wanneer die wêrleld alles in sy mag doen om jou neer te druk dan gaan jy net aan en bou die lewe wat jy wil hê, een stukkie op ‘n slag.

Ek het jou al vir so lank lief dat ek nie kan dink aan ‘n wêreld waar dit nie die geval is nie, waar jy nie alles is wat ek nodig het nie en die grap is, ten spyte daarvan, dat ek te lank gewag het om dit vir jou eers te vertel maar ek het, uiteindelik, bietjie te laat maar dog, dog betyds want jy weet nou. Jy weet nou wat daardie woorde van my beteken en dat niks, niks wat jy ooit kan doen dit ooit sal verander nie.

Om ‘n idee te steel, want wat is kuns anders as die steel en herbruik van ander se idees, Hoe lank is ‘n ewigheid? 

Dink aan ‘n berg, ‘n toringende obelisk wat ‘n uur neem om te klim en ‘n uur neem om, om te loop. Elke 100 jaar kom land ‘n klein voëltjie op die piek en maak sy bekkie skerp op die berg en met elke bek-skerpmaak weer die voëltjie die kleinste deeltjie van die berg weg.

Die oomblik wat die hele berg weggeweer is, dit is die einde van vir-ewig en dit, dit is hoe lank ek jou sal liefhê, tot daar niks van daardie berg oorbly meer nie.

Ek was nog altyd ‘n gevaar vir myself wanneer dit by liefde kom, ek gee alles wat ek het totdat al wat oorbly gedigte op ‘n arseen-beklede hart is maar met jou, met jou was ek nooit verpletter op die rotse nie. Ja, daar was seer, daar was tye wat ek net wou baklei met die heelaal maar nooit, vir een oomblik, kwaad vir jou nie want ek weet, nog altyd, dat ons bestem is om bymekaar te wees. Daardie aand, op die derde trap van bo, was onvermybaar, dit was nog altyd waarheen ons altwee oppad was en al het ek die bal amper laat val daar, het ek te laat besef wat jy nodig het van my, wat ek nodig het van jou, het die bal nie gebreek nie, net bietjie gehop.

Vanaand, in die veld, toe jy in my arms geklim het, het ek geweet, met absolute sekerheid, sonder twyfel, dat dit is waar jy hoort en het die woorde wat ons nou al sedert Januarie, tergend-ernstig sê, gevoel soos ‘n belofte wat deur die koue, winter-sterrenag ‘n verbond geword het; “Ek gaan met jou trou”.

Oor die laaste week het ek my tuis gevind in jou huis en in myne, want tuis is nie die gebou nie maar waarookal ek en jy saam is en ek kan nie wag om tuis te kom nie.


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *