Eendag as ek groot is. Hoeveel keer het ons nie al daardie woorde gehoor nie, gesê nie. Eendag as ek groot is gaan ek… Wel, nou is ek groot en het ek?
Dit is ‘n maklikke manier om jou drome te vertel aan iemand anders, om vir hulle te sê dit is wat ek wil bereik, my mikpunt. Maar sonder om werk daaraan te maak, sonder om daadwerklik dit te verander van ‘n mikpunt af na ‘n doelwit toe is dit onmoontlik om ooit daar uit te kom, bly dit leë gebroke beloftes aan jouself.
Dit is hierdie beloftes aan onsself wat ons eintlik moet onthou, wat ons moet strewe om na te kom want as ‘n mens eers jou beloftes aan jouself begin verbreek, wel, dan is daar nie regtig enige iets anders wat oorbly nie. Ons vergeet soms die klein seuntjie of dogtertjie wat hierdie groot drome gehad het en daardeur vergeet ons, ons drome. En om te droom is dan juis wat ons onderskei van diere. Sir Terry Pratchett het dit baie goed opgesom toe hy verduidelik het dat die anthropoloë dit verkeerd gehad het om ons die wyse man, homo sapien te doop, nie net omdat dit arrogant is nie, omdat wysheid beslis nie een van die meer opsigtelike eienskappe van die mens is nie maar omdat, in realiteit, is ons die chimpanzees wat stories vertel, pan narrans, omdat ons drome droom en verbeelding het.
Dit is juis daardie eienskap wat ons laat uitstaan, wat ons spesiaal maak in die diereryk. Daardie drome en die beloftes wat ons aan onsself kan maak om daardie drome te bewaarheid.
Ek het gister, of eergister, of dalk die dag voor dit deur die dorp gery en verby ‘n huis gery wat my laat droom het. Herinner het aan ‘n baie ou droom wat ek nog altyd gehad het, ‘n belofte aan myself wat ek nooit nagekom het nie. ‘n Tradisionele oudmodiese plaashuis. Een van daardie huise met ‘n stoep regrondom en ‘n sinkdak en wit mure. Met hout-vloere en gevormde plaffonne. In kort, die raamwerk van my droomhuis, die beginpunt, die genesis.
Ek wil daardie huis koop, ek wil die mooi van die oud behou maar dit moderniseer, die genres saamsmelt tussen oop, moderne glas-en-staal eenvoud en oudmodiese, warm, sielvolle familie-wonings. Ek soek glas mure met houtrame. Vloere wat vervlek en gekleur is deur jare se liefdevolle lewe oor hulle maar glad en reguit is. Ek soek ‘n kaggel in my sitkamer en koper potte wat hang in die kombuis. Ek soek die gerief en eenvoud van die moderne soomloos saamgesmelt met die warmte en noukeurigheid van die antieke.
In die verbyry het ek die droom voor my sien oopvlek, die idee van iets wat kan wees. My huis. Die belofte daarvan iets om aan vas te klou en aan te timmer, ‘n rigting om in te werk.
Leave a Reply