Ekstrak uit Elegie

Elegie

Ek was so min-of-meer dertien jaar oud gewees, in daardie graad 7 klaskamer van juffrou Joubert. Ek sal altyd haar naam onthou want haar man was een van die skrywers van ‘n, op daardie stadium, revolitionêre vertaling van die calvinistiese Bybel en dit was opvallend want die gedig wat ons daardie dag gelees het in die klas was “Elegie vir my toekomstige vrou” deur ene Anton le Toit, die skuilnaam van daardie gesogde, verbode miskreant, Koos Kombuis.

Almal het geweet wie Koos Kombuis was want hy was alles wat die destydse Nasional Party nie wou gehad het ons moes wees nie; rebels, eiewys, vry van die dogmatiek en politiek en ‘n suiwer kunstenaar.

Daardie dag het ek die gedig gelees en die kontrasterende konsepte daarin vervat, die aanval op die dogma en die kerk en die tipies-beplande lewenspadjie wat van my verwag word gesien vir die strik wat dit is. As ek maar net daardie wysheid kon onthou maar tog, tog het dit verander wie ek is.

Vir my sou dit nooit genoeg wees nie en ek het my lewe gelewe soos wat ek goed gedink het, sonder om toe te laat dat mense se verwagtinge en voorafbepaalde planne vir my sou voorsê wie ek is en wat ek “moet” doen en dit, dit het al die verskil in die wêreld gemaak.

Tog, tog was ek ‘n “probleem-kind”, mense wat nie in die gewone boksies pas nie is maar altyd en so het ek ook myself op ‘n stadium in ‘n situasie bevind waar ek toegegee het aan die “hulp”, myself oorgegee aan dokters wat my net wou “help” om ook in die regte boksies te pas.

Ek het maar getrou my medikasie gedrink en ek doen vandag nog want dit help, dit maak dit makliker om in die plateu te bly, vry van die onwillekeurige spronge na die goddelike hoogtes wat van my die sukses gemaak het wat ek oënskynlik vandag is, maar darem ook vry van die diep hel van verdriet en haat wat die anderkant van my “siekte” is en beslis, beslis vry van die dele daarvan wat selfs my bang gemaak het.

Die woord “elegie” beteken ‘n treurlied of begrafnis-brief, soos wat juffrou Joubert my geleer het al daardie jare gelede en dit is vir my een van die mooiste woorde. Die bitter-soet kontras wat dit in my hart skep is vir my beide pragtig en donker en dus versoen ek myself met daardie gevoel, sien ek in die woord ‘n refleksie van myself.

Ek het baie verloor in my lewe, maar die een les wat ek nogsteeds nie kon leer nie is om te laat gaan, want ek kan nie, ek kan nie toelaat dat ek verloor nie en so goed soos wat dit some is vir my beroep, is daardie selfde instink vernietigend vir die siel.

Ek het in my jeug, toe ek nog gelowig was, in gebed gevra vir Wysheid sonder om te besef dat, soos Paulo Choelho beskryf in sy boek, “The Alchemist”, dat wanneer jy iets van die heelal vra en dit najaag en begeer, die heelal alles in sy mag sal doen om dit vir jou te gee en die probleem daarmee is, ongelukkig, dat Wysheid kom deur ervaring, meer so uit negatiewe, slegte, bitter, pynlike ervaringe as plesieriges en ek, ek het gekry waarvoor ek gevra het.

Ek skryf hiermee my eie elegie, my treur-woorde vir dit wat ek al verloor het in my lewe, vir die wat ek seergemaak het en die wat ek nog gaan seermaak, vir die brûe wat ek reeds afgebrand het, die bouvalle reeds agtergelaat en hier waar ek nou staan, my aansteker in my hande, vir die wat nog gebrand gaan word. Vir al my onskuldige slagoffers vra ek om verskoning en ek hoop, elke dag van my lewe, dat die enkele gevalle waar ek iemand se lewe vir die beste verander het, dat daardie gevalle die skale van die heelal balanseer.

Ekstrak uit Elegie


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *