Ekstrak uit "Kosmos en Paardebloem"

Kosmos en Paardebloem

Soos wat die laat-somer reën val oor die hoëveld met meulende strome wat die steenkoolstof van die pad af spoel, draai my oë na die kleure wat ple-plek vir my loer vanuit die deurweekde veld.

Die wit en pienk en pers van Kosmos, die donsige wit van Paardebloem, ‘n dissel wat hier-en-daar, donkerpers vertoon en orals waar ek kyk staar jy na my terug.

Ek sien in die glinster-groen-gras jou oë, die kleur van eeue-oue see-ys wat dobber en speel in die koue blou golwe van ‘n Antartiese oseaan.

In hierdie oomblike weet ek dat ek alleen is, dat jy nooit weer in my arms gaan lê en giggel terwyl ons die speel van die son oor ons naakde lywe voel in my koshuiskmer nie, gaan ek nooit weer jou glimlag sien wanneer ek jou by die basis optel na nog een van daardie geheimsinnige sendinge nie, nooit weer myself verdrink in die subtiele soet geur van jou Britney Spears parfuum wanneer ek terugkom van een van myne af nie.

In hierdie oomblike weet ek dat daar lewendig is en lewe is, weet ek met absolute sekerheid dat ons twee vir mekaar bestem was, een siel en een hart gedeel het want sedert daardie aand in Mocambique, is ek dalk lewendig, maar het ek nog nooit gelewe nie.

Ek het die sneller getrek, ek het lewens gered, ek het ‘n oorlog verhoed en ek moet lewe met wat daardie aand gebeur het. Dit maak nie saak hoeveel sielkundiges vir my vertel dat dit nie my skuld was nie, dat ek die beste gedoen het wat ek kon doen bring dit jou nie terug nie en in oomblike soos hierdie, wanneer ek die oënskynlike prag van die veld voel terugstaar in my siel in, weet ek dat ek verkeerd was.

Ekstrak uit "Kosmos en Paardebloem"


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *