Letsels

Die regte persoon op die verkeerde tyd kan alles verander. Al daardie jare gelede, om-en-om het ek getol in my eie chaos, selfsugtig, inherent skadelik vir almal om my, ek was giftig. Mense in ‘n self-destruktiewe tornado trek meer skadelike elemente aan soos dit die dakke van huise afruk.

Slaap met een vriend se meisie, soen ‘n ander een s’n en soos wat jy die netjiese huisies van hulle verhoudings uitmekaar skeur en die dakke en mure van hulle eens idilliese lewens optel, ruk en in jou tornado as skrapnel voeg, net om die volgende “huisie” harder te tref, bou jy spoed op, groei die momentum en vergeet jy vir ‘n oomblik die woedende haat binne in jou.

Dit het begin met een van daardie huisies, die oog van hierdie spesifieke storm, ‘n vriend en sy meisie en ek het haar gevat, myself oortuig dat ek haar liefhet want sy was ook stukkend, net soos ek. Saam het ons mekaar se swakker gewoontes aangehits en die ontbloting van haar seksuele vryheid het geresoneer met my, vir ‘n ruk…

Alles het so tipies aangegaan soos die maande verby gerol het en ons al hoe meer tradisioneel opgetree het. Ek het gedink dit was ‘n regte verhouding en die hartseer ding is, sy het ook maar toe, eendag… die regte persoon op die verkeerde tyd kan alles verander… 

Ek verstaan dalk nog nie presies my motiverings en redes vir dit wat ek gedoen het, al daardie jare gelede nie maar ek begin die raamwerk daarvan te sien, nou, 16 jaar later. Ek sien die kaart in die letsels om my hart. Vir al die uitdagings wat ek oorwin het, suksesse wat ek bereik het, al die berge wat ek geklim het, wel, sien die man bo-op die berg, in sy oë blink die veldslae wat hy gewen het maar op sy gesig, die letsels wat hy gelaat het, al die skade wat hy aangerig het…

Dit is moeilik om jouself te sien as die ridder, die wenner, die “suksesvolle” man wat almal sien wanneer hulle na jou kyk, wanneer jy daardie letsels dra, binne in jou hart. Al die seer wat jy gesaai het, oor-en-oor-en-oor… Die verlede wat jy nie kan laat gaan nie… Die letsels wat jy dra…

Haar naam maak nie saak nie, maar sy was die regte persoon, op die verkeerde tyd, en dit het al die verskil in die wêreld gemaak…


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *