Jy is meer as toeval

Daar is baie dinge wat ek vir jou wil sê maar ek weet jy wil dit nie hoor nie, net soos ek weet jy weet wat ek wil sê en dit is soms die probleem want ek kan sien hoe jy na my kyk en dit, dit maak alles soveel moeiliker vir ons albei.

Op een van daardie Facebook blaaie het iemand eenmaal gesê

Never give up on something you can’t go a day without thinking about

en fokkit, ek dink baie aan jou. Ek dink aan wat kon gewees het as ek net eerlik was met jou toe dit saakgemaak het, ek dink aan hoe anders dinge kon gewees het as jy net eerlik wou wees met jouself maar meestal dink ek aan jou glimlag, aan die oneindigende diepte van jou oë, die sagte kurwe van jou wange as jy glimlag, o fok daardie glimlag…

Ek dink aan hoe die maan saggies oor jou liggaam gespeel het daardie aand en hoe jou soene soos ‘n dwelm vir my net onweerstaanbaar was. Ek wil nie opgee nie en dit is nie wat ek gedoen het nie, wat ek gedoen het is om vir jou die spasie te gee om self te sien wat ek reeds in my drome en gedagtes gesien het.

Ek het vir jou ‘n brief geskryf, of eerder ‘n boek, want toe ek eers die pen op die papier neergesit het kon ek net nie ophou nie en het die woorde uit my gevloei soos ‘n dam wat gebars het want dit was vir my nodig om jou te laat verstaan wat ek voel en dink, al was dit dalk net te laat, omdat ek besluit het dat ek nie ‘n dag langer kon lewe as ek nie vir jou gesê het dat ek jou liefhet nie.

Paulo Choelo het gesê 

When you want something, the whole universe conspires in order for you to achieve it

en elke liewe dag kan ek sien hoe dinge net gebeur om dit toe te laat, klein toevalighede soos elke keer wat jy weghardloop van my af, die dag waarop ek ‘n boek kry wat ek weet jy wil hê in een van die tweedehandse-boekwinkels wat ons deel, is dan juis die dag waarop jy die stilte breek en terugkom, weer met my begin praat.

Die manier wat ek op die dae wat ek my spesiale Whiskey moet soek in hierdie dorp en die hele plek moet platry om die laaste botte te kry in die laaste bottelstoor, dat daar dan sommer een laaste bottel van jou Whiskey reg langs hom op die rak sal staan al is dit nie eers die rak waar dit hoort nie.

Daardie oomblike van besliste kismet wanneer ek in ‘n winkel instap en presies die soort lekkers sien wat ek weet jy geniet of die laaste pak tuisgemaakde Anys-buskuit wat jy net die ander dag genoem het jy soek en wat jy nogsteeds nêrens kon kry nie kan koop en dan dit vir jou gee op die presiese dag wat dinge net so bietjie rof gegaan het vir jou, die dae wat die wêreld jou laat voel asof jy nie goed genoeg is nie word dan die dae wat ek opdaag en jou herinner dat jy eintlk alles is wat saakmaak.

Dan is daar die aand in my kantoor waar jy oorkant my sit en ons ‘n drankie drink en doelbewus oppervlakkig praat omdat ek en jy altwee weet wat ons vir mekaar wil sê en hoe ek weet dat om daardie woorde te sê jou net weer gaan laat weghardloop maar dan tussen die hol-woorde en geskudde sinne suifer daar steeds waarheid deur en wanneer ek na jou kyk om te sien of jy kyk dat ek kyk, dan sien ek ook dat jy dieselfde doen en deel ons ‘n oomblik, een van daardie oomblike waar net om vir mekaar te kyk en te weet, maak nie saak wat nie, ons is in mekaar se lewens vir die langtermyn, juis dan op daardie dae wat ek dit die nodigste gehad het.


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *