Die Meisie wat Hardloop

Jy trek nie eers jou skoene uit nie, nie regtig nie. Hulle bly aan jou voete, jou tassies netjies gepak agter die voordeur en gereed om te gryp sodra jy weer begin om die hitte van jou eie emosies te voel. Jy maak staat op die tydelike vergeet wat jy bekom deur die middele waarop jy afhanklik geraak het om die seer weg te vat want wanner die kole weer begin gloei, die pyn sy lelike gesig uitsteek, en wanneer die gif wat jy in jou liggaam inforseer nie meer help om die rou weg te hou nie, wel, dan hardloop jy. Jy spring in jou karretjie en jy ry tot die son opkom want, fok, die seer woed binne in jou soos die vlamme van ‘n wegholveldbrand.

Jy glo dalk dat jy goeie redes vir hoe jy oorleef, maar dit maak nie saak hoe vinnig jy hardloop en hoe ver jy ry nie, jy kan nie weghardloop van jou eie hart af nie, “that shit follows you wherever you go”. Die emosies wag daar vir jou, om weer die volgende oggend nugter te word, en dan skreeu dit weer met hernude mag, klou aan jou, byt en krap en brand jou, sweep jou met diep hale en vul jou wonde met sout omdat jy probeer het om dit te versmoor. Ek wens ek kon jou seer vir jou wegvat, vir jou die hoop en die krag gee om deur dit te werk, maar soos jy self sê, emosies, FOK.

Eendag as jy klaar gehardloop het en dalk besef dat jy nie kan weghardloop van jou eie emosies af nie hoop ek dat jy vrede kan vind, dat jy nie so ver weggehardloop het dat jy almal wat ooit kon en wou vir jou omgee in jou spore agtergelaat het nie. Ek hoop met meer passie en liefde en deernis as wat jy dink jy verdien dat jy vrede kan vind en dat jy jouself ook kan vergewe en aanvaar vir die beeldskone mens wat jy is, want agter daardie masker waaraan jy met soveel mag vasklou is daar iemand besonders. Iemand wat meer waarde het as wat jy besef. Die klein dogtertjie wat so lank mishandel was, wie se emosies nooit so belangrik soos die gerief van jou eie moeder nie, voel sy was nie genoeg om haar pappa se liefde te verdien nie, die dogtertjie wat maar net altyd gevoel het asof jy in die pad was, dit hoef nie meer jy te wees nie. Die oordeel wat jy oor jouself plaas is hartverskeurend maar meer as dit, is dit ‘n kruis wat jy nie alleen hoef te dra nie.

As jy eendag dalk besef waarvoor jy eintlik weghardloop en dalk kans sien om so bietjie eerlik te wees met jouself sal ek hier wees, ek sal altyd hier wees, die stukkies optel en jou weer aanmekaar vasplak. Ek sal altyd ‘n veilige toevlug wees sonder oordeel en motiewe. Ek sal altyd ‘n veilige hawe wees maar ek kan nie die vure binne jou blus totdat jy bereid is om lank genoeg stil te staan om hulle te aanskou nie, te waardeer hoe besonders jy eintlik is nie want niemand, nie een mens op hierdie aarde sou genoeg brandstof binne hulle gehad het om daardie vure so lank aan die brand te hou nie.


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *