Ekstrak uit "Metastes"

Metastes

Die verspreiding van pyn deur die heeltotaal van die self is soms onverhoedbaar wanneer dit eers begin het, die uitbreiding van die inherent onbeheerslike verdriet wat soms jou hele lewe oorneem, metastiseer, daardie korrupsie van die noodslaklike proses van selverdeling, die letterlike daad wat, per definisie, is om te lewe. 

Wanneer die seer soos ‘n kanker versprei in die tydelike dood tussen elke hartklop en elke teug asem brand soos ‘n vagevuur, is daar niks wat jy nie sal doen om dit te laat stop nie, vir die pyn om net op te hou en hier, hier is waneer so baie mense die stryd verloor. Ons praat nie van ‘n kanker-pasiënt wat “die maklike pad gevat het” nie, nee, ons erken dat dit die siekte is wat hulle geneem het, maar wanneer die hartseer jou neem is dit jou skuld, jou swakheid en dit is bullshit.

Dit is bullshit want nie almal oorleef die siekte nie. Party mense kan net nie die bome deur die woud sien nie.

Soms is dit moeilik, selfs onmoontlik en dan gee jy net in tot die pynbestuur en aanvaar die komende dood, kry jy jou afêre in orde en vind vrede in die komende stilte.

Die wat oorleef is die wat besef daar is mooi te vinde in die donker, dat daar niks meer asemrowend is, as ‘n mens met ‘n gebroke hart en ‘n glimlag nie want dit is die persoon wat, nie net die seer oorleef het nie, maar die woedende, brandende monster in remissie dwing, al kos dit alles wat jy het net om vir daardie oomblik, een oogwink, die eerste tree neem om die mooi te sien terwyl alles gal braak om jou, terwyl die siekte besig is om te wen om jouself te dwing om te soek vir jou een mooi ding in elke dag. Soms is dit iets klein, soos die eerste kosmos voor die winter kom en ander kere, andere kere is dit besonders maklik want op daardie dae wat ek jou sien is dit die magie van jou glimlag, die diepte van jou oë, die reuk van jou liggaam en, meer as dit alles, die gevoel van jou in my arms. Op daardie dae is my een mooi ding so onbeskryflik perfek dat ek weet dat ek die siekte gaan wen.

Ek wil nie oor vyf jaar terugkyk en wonder of ons skouspelagtig kon wees nie, maar, dat omdat ek te bang was, ek dit alles verbeur het nie. Oor vyf jaar wil ek na jou kyk en vir jou vertel hoe vrees probeer het om die beste ding in my lewe van my af weg te hou en dat ek braaf genoeg was om te veg daarvoor.

Daar is dinge in hierdie heelal wat ons nie kan sien nie, dinge waarin ons slegs kan kies om te glo en vir my is ‘n toekoms met jou een van daardie dinge. My een mooi ding wat my die krag gee om daardie dag aan te hou.

Ek het vir so lank gehoop dat wanneer jy uitendelik in my rigting sou kyk dat ek besig sou wees om in ‘n ander rigting te kyk. Ek wou sê: “moenie nou al kyk nie” want ek is nog nie reg nie, maar daardie aand, laat in Maart toe jy uitendelik vir my gekyk het, het ek wel, vir ‘n oomblik, toegelaat dat vrees my van jou weerhou, het ek amper toegelaat dat vrees my verkul en my ontneem, maar ek het besef, dalk later as wat ek moet, dat ek dit nie kan toelaat nie, nie wanneer jy alles is wat ek ooit begeer het nie.

Daardie video, die een wat ons altwee weet gaan eintlik oor ons, daardie stukkie heel aan die begin van “Life Itself” waar my hart deur Will se lippe sê;

I’m waiting for the right moment because when I ask you out there’s not going to be any turning back for me. I’m not going to date anybody else for the rest of my life. I’m not going to love anybody else for the rest of my life. I’m waiting for the right moment because when I ask you out, it’s going to be the most important moment of my life and I just want to make sure that I get it right.

Ek wens dat dit al daardie oomblik was, die regte, perfkete oomblik, maar dit is nog nie, daar is nog tyd nodig, vir beide van ons om een of twee dinge uit te sorteer en intussen, intussen belowe ek dat ek die metastes sal afweer, my een mooi ding elke dag as chemoterapie aanwend want, sedert jy in my lewe is, is dit makliker, jou glimlag, die diepte in jou oë, die reuk van jou liggaam en meer as dit alles, die gevoel van jou in my arms, alles medisyne om my aan die gang te hou tot die dag wat jy my genees.

Tot daardie dag aanbreek, is dit in die stilte wat ek die meeste na jou verlang, wanneer my gedagtes die kans kry om te dwaal en my hart ‘n oomblik kry om te onthou wat was en wat ons kan wees, maar wanneer ek terugdink aan daardie aand, laat in Maart, is daar niks waaroor ek spyt is nie en tel ek die dae af totdat dit my elke dag is.

Ekstrak uit "Metastes"


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *