Nuwe Begin?

Na veertjien jaar saam met dieselfde mense, elf jaar daarvan in hierdie gebou het ek die besluit geneem om die volgende uitdaging aan te durf. Vandag begin my laaste maand by hierdie firma en daarna, daarna die onsekerheid van ‘n nuwe begin.

Oor die laaste weke het ek baie getob rondom hierdie besluit en die impak wat daardie oordenkinge op my lewe gehad het is, om die minste te sê, onbeskryflik groot. Die dag wat ek die aanbod gekry het en nie seker was wat om daarmee te doen nie, gestoei het met my lojaliteite en my etiek en soveel herinneringe oor die laaste veertien jaar het jy vir my gesê; “Jy is al vir lank nie gelukkig nie”, minwetende hoe waar daardie woorde eintlik was…

In veertien jaar was daar baie hartseer en hartbreek, maar daar was soveel goed en mooi en ervaringe en ondervindinge, groei, nie altyd sonder pyn nie maar altyd oppad na hierdie doelwit wat ek nou al sedert 2010 koester.

Nadat ek die besluit geneem het, het daar soveel meer gebeur as wat ek verwag het en het soveel meer in my lewe verander as wat jy besef, maar wat belangrik bly, ten spyte van alles anders, is dat wat nou gebeur nie maklik is nie. Die uitdagings wat nog voorlê spook by my in die aande, wanneer ek alleen in my bed lê, maar in my hart weet ek net een ding vir seker, dat dit die regte besluite is en soms is dit al wat ‘n mens het, die kompas wat jy volg, reg of verkeerd is daar net vorentoe wat saakmaak en dit, dit is waar my grootste gebrek lê. Die selfverwyt wat ek konstant koester omdat ek nie glo dat ek goed genoeg is nie, die grootste breek in my siel waaraan ek moet aandag gee om besmoontlik, hopelik, eendag weer heel te kan wees.

Ek hoop dat hierdie stap wat ek nou neem my op daardie paadjie plaas om my maksimum potensiaal te ontsluit en te word wie ek bestem was om te wees.


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *