Ekstrak uit "Regstelling"

Regstelling

Die manier wat dinge hulleself uitwerk in hierdie chaotiese wêreld is soms belaglik komies. Wel, as jy ‘n swartgallige sin vir humor het seker, maar nou ja, wie kan werklik oorleef in hierdie lewe sonder om so sin vir humor te ontwikkel. Ek sê mos altyd ‘n mens kan lag of ‘n mens kan huil en daar is genoeg trane in die wêreld.

Kyk my Pikkewyn, wanneer ek eendag sit om die storie van my en jou te skryf gaan dit beslis interessant wees en daar sal dalk ‘n traan of twee wees, maar ek dink daar gaan baie meer lag wees. Ek het jou dit nooit vertel nie, nie voorheen nie, maar die dag wat ek jou ontmoet het, het ek al gewonder watter potensiaal daar agter jou perfek gegrimeerde gesiggie en net-so-in-plek hare wag vir my om te ontdek, en oor die laaste week het ek meer en meer besef dat, ten spyte van hoe fucked-up dinge was in beide van ons lewens oor die afgelope agt jaar, dat alles gebeur het net soos dit moes. Ek onthou die eerste dag wat jy langs my in die kar gesit het en ons oor die Ou Olifantsrivier brug gery het en ek na jou gekyk het op die passasiersitplek, ek onthou wat ek gedink het want ek dink dit nou nog, elke keer wat ek jou sien; dat jy beslis spesiaal is, uniek en anders en eiewys, so fokken eiewys, maar meer as enige van dit, dat jy asemrowend is.

En net so tipies soos wat ons nou maar duidelik ons dinge doen was dit die einste dag wat jy karsiek geraak het, in my nuwe maatskappy-bakkie, soos jy my tergend herinner het gisteraand.

Dinge het dalk nie gegaan soos in ‘n tradisionele roman nie, maar dit het alles gegaan om ons te bring waar ons gisteraand op die bank in vriende se sitkamer gesit het, jou bene oor myne, jou lyfie in my arms en my hand saggies op jou wang. Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd het ek gevoel of ek is waar ek veronderstel is om te wees, dat ek goed genoeg is en dat alles sinmaak. Ek het jou ken gelig en jou gesoen en net soos daardie eerste soen langs jou kar buite die restaurant was dit elektries, saggies, sensueel en perfek.

Ekstrak uit "Regstelling"

 


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *