Haat is ‘n baie sterk woord, of so sê hulle, maar dit is nie sterk genoeg nie. Dit begin nie eers om te beskryf hoe dit brand binne in my nie. ‘n Brandende, skreuende gedierte vol woede wat net die hele wêreld wil afbrand.
Dit is maklik om te sê dit is “hy is nie die moeite werd nie”, maar dit is die probleem, want “hy” is, want “hy” het jou seergemaak en dus, dus het “hy” my seergemaak want ek was die een wat jy gebel het daardie oggend met die trane wat by jou wange afloop. Ek is die een wat die deur oopgemaak het en gesien het wat “hy” aan jou gedoen het. Ek is die een wat dit alles kon voorkom het as ek net nie ‘n lafaard was toe dit saakgemaak het nie.
Haat, vir hom, ja, maar eerder eintlik die haat wat ek vir myself voel want ek is die een wat weet wat ek anders kon gedoen het, as ek net die moed gehad het, toe dit saakgemaak het, sou alles anders gewees het. Sou jy nie so stukkend gevoel het dat jy nou nog, ‘n jaar later, die stukkies probeer aanmekaar plak met drank en korstondige liefde nie.
Ek het jou in die steek gelaat toe dit saakgemaak het en ek het gewys, net soos elke ander keer, dat wanneer dit regtig saak maak, wanneer ek regtig moet wys wie ek is, ek net eenvoudig nie goed genoeg is nie.
O ek kruip weg agter die gevleulde woorde waarme ek so goed is, banale, goedvoel kaggelkakkies soos:
When I think of my life, when I think of the magic I see everyday, I think of those fleeting moments, of the way I felt. In those moments, that enchant me, some remembered, some forgotten. These are the moments I cherish; of joy, of exhiliration, of timelessness, of beauty, of power and magnificence, of discovery, of hope, of freedom and love. I see magic, I feel magic because I live to create the life of my dreams, every single day.
Ek doen dit want dit laat my goed voel, dit voed die romantikus in my, die hoop dat dit waar is, dat daar ‘n gelukkige einde is vir my, maar die waarheid is, ek weet daar is nie. My brein werk nie so nie, ek kan nie gelukkig wees nie. Al wanneer ek gelukkig is, is wanneer ek seer het, myself kan verwyt want ek weet wat die eenvoudige waarheid is, die bitter pil, die eerlikheid, dat ek sleg is…
Ek is sleg vir almal om my, brand die wêreld af die oomblik wat ek gelukkig is omdat ek weet dat ek nie geluk verdien nie. Ek is walglik, selfsugtig en bitter en ek moet eintlik net alleen wees, wees waar ek niemand anders kan skade aandoen nie want dit is wat ek altyd gaan doen. Elke keer, die onskuldige mense wat probeer om daar te wees vir my, wat dom genoeg is om my lief te hê, ek maak hulle net seer.
Ek onthou elke liewe laaste een van julle, ek onthou wat ek gedoen het en ek onthou hoe ek myself oortuig het dat ek die regte ding doen… Ek weet wat ek aan julle gedoen het en ek volg julle lewens vandag nog, ek weet wie van julle wel geluk kon vind na my, en wie van julle nooit kon nie. Ek weet wat ek gedoen het aan elke liewe een van julle en ek haat myself daarvoor. Ek wens ek kon vir julle sê ek het beter geraak maar ek het nie, ek is nogsteeds net so stukkend en vol selfvernietiging as wat ek toe was, dalk net meer bewus daarvan nou as toe, maar dit is wat dit erger maak.
Die siklus herhaal homself elke keer wanneer die monster gaan slaap, ek dink ek is beter, ek dink die medsiyne en die sielkundiges werk, ek dink ek kan ook, soos almal anders, net ‘n gelukkige mens wees en dan ontmoet ek jou, val ek heetlemal gat oor kop vir jou, verdrink ek myself in die passie van nuwe liefde en dan, sodra dit verby is, sodra ons die “elke-dag” ding doen, dan word die monster wakker en dan brand hy van woede en hy wil gevoer word, hy soek sy pond vleis, die selfverwyt want hoe durf ek gelukkig wees, ek verdien dit nie, ek mag nie gelukkig wees nie en die korste pad is om net alles af te brand, die onskuldige slagoffer, wie-ookal jy is op daardie oomblik word net nog hout vir die vuur, nog ‘n lyk om in die oond te gooi en die monster te voed.
Ek is sleg… Vir jou, vir my, vir almal… Ek is sleg…
Leave a Reply