Uiteenlopende golwe

Verbeel jou vir ‘n oomblik ‘n dam op ‘n windstil dag, die oppervlak is spieëlglad… In jou hand het jy ‘n klein, gladde klippie en soos jy hom in jou hand hou trek jy jou arm terug, met een gladde beweging tol die klippie oor jou palm soos jy hom vorentoe gooi dat hy kan spring oor die water se oppervlak.

Hy hop, eenkeer, tweekeer en plons dan na die derde keer in die water in om nooit weer gesien te word nie.

Verbeel jou nou vir ‘n oomblik dat daardie water die groter heelal is en dat die klippie jou lewe is. Sommige mense kyk daarna en sê dan dit is al wat die lewe is, ‘n tol, ‘n hop, ‘n spring en ‘n val en dan is dit alles verby. Ek vra jou dan; Wat het elke keer gebeur wat die klippie die water gesoen het? Daardie rippels waar die oppervlak gebreek is wat kabbel en draai, uitvloei en aanhou uitkring, hop teen mekaar en vergroot en dan eventueel die hele oppervlak van die dam bedek, dit is jou lewe, dit is die impak wat jy maak op die heelal, die mense daarin en almal wat jy ontmoet. Moet dit nooit vergeet nie want alles wat jy doen, elke klein daad, maak saak.


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *