Ulundi uit ‘n ander oogpunt

Soos wat ek weer, vir die hoeveelste keer, myself bevind in hierdie kontrasterende deel van die land, waar moderne mynbou en kulturele tradisie nagenoeg altyd in ‘n twisstryd is en waar historiese konflik tussen mense van oënskynlik dieselfde stam steeds ‘n diep haat vir mekaar koester, vind ek myself besig om te dink oor die feit dat hierdie unieke plekkie, hierdie klein deel van die wêreld wat die meeste mense nie eers weet bestaan nie, nog een van daardie dinge is wat ons in gemeen het en dus, soos my gedagtes maar so gereeld maak, dink ek oor jou…

Ek het jou nie gekies nie… Ek het nie gevra dat jy my lewe moes verander nie en ek het nie gedink jy het enige daardwerklike waarde nie, maar ek was verkeerd want my hart het jou al gekies nog voordat ek jou eers ontmoet het en op jou verlief geraak het; ek kon jou nie vra om my lewe te verander nie want ek het nie besef hoe broodnodig ek gehad het om verandering in my lewe te hê nie, maar op die laaste punt, op dit was ek egter reg want jy het nie waarde nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek bedoel nie dat jy niks werd is nie, inteendeel, as ek jou moes beskryf in die eenvoudige taal waarin ‘n mens waarde sou meet is jy alles werd, letterlik alles, nie alles wat ek gedoen of vermagtig of bereik het nie maar letterlik alles, die somtotaal van alle materie in die heelal is net ‘n klein maatstaf van jou waarde en om te probeer waarde toeskryf aan jou kan nie eers begin om sin te maak in menslike mates nie. Ek soek jou in my lewe vir die res van my lewe. Al kos dit my alles want alles is nie eers ‘n breekdeel van hoe bitter baie jy beteken vir my nie.

Met die besef daarvan kon ek dalk ‘n mate van vrede vind in my voortbestaan en sodoende meer beryk as die mengelmoes mense wat om my hier saamdrom en baklei vir hulle stukkie lig, sonder om ag te slaan op die skadu wat hulle dus noodwendig oor hulle naastes bring nie. Ek sal nooit ‘n skaduwee wees oor jou nie en sal keer op keer die minste wees, soos ek al gedoen het vir die laaste jare, as versoening vir my sondes en my foute en vir die feit dat, daardie dag, die dag wat dit saakgemaak het, ek nie vir jou kon laat sien hoe bitter baie “waarde” jy vir my het nie.


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *